Sondagskool

Wys items op etiket: heiligmaking

Saterdag, 04 April 2015 23:19

Hoe belangrik is Stiltetyd?

Wat dink julle van die volgende stelling?

Ek sukkel met my stiltetyd. Dis so moeilik om op te staan en Bybel te lees… Ek sukkel ook met ander dinge in my lewe, soos ooreet, woedebuie en pornografie. Ek bid vir selfdissipline – maar dit wil nie werk nie!

Mag ek vra hoeveel van julle met hierdie probleem spook?
Ja, ek het gedink dat baie hierdie probleem het.

Die antwoord op hierdie probleem is aan die een kant baie maklik en aan die ander kant baie moeilik. Die moeilike antwoord het te doen met ons gesindheid en die maklike antwoord te doen met ons optrede of lewensgewoontes.

Kom ons begin by die gesindheidsantwoord:
Hier gaan dit oor jou verstaan van heilig lewe voor God. Is dit jou lewensdoel om ‘n ‘n intieme verhouding met God te lewe?  ‘n Heilige lewe behels dat ek:
-   alles wat skeiding maak tussen my en God uit die weg sal ruim
-          gedurig sal wegdraai van sonde en ‘n voortdurende afsonder tot God
-          God alleen sal gehoorsaam
‘n Heilige lewe voor God is ook die aantrekkingskrag na God – en daarsonder is stiltetyd gewone pligspliging en/of word dit deur skuldgevoelens gedryf.

Die optrede-antwoord:
Paulus het eenmaal uitgeroep “Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek”. Ek dink hy was redelik desperaat toe hy dit gesê het – en ek dink baie van ons sal baie goed verstaan wat in sy gedagtes omgegaan het, veral as ons gesels oor ons intieme verhouding met die Here en ons stiltetyd. Tog gaan dit hier oor doodgewone optredes of handelinge. Jy weet wat reg is en jy weet dat jy naby God moet leef – jy’t Hom mos lief, maar kom nie daarby uit nie. Hoe moet jy dan maak om hierdie allerbelangrike verhouding prakties te beleef?

Jy moet eers 2 belangrike redes verstaan waarom jy so sukkel…

● Eerstens is daar die konflik wat bestaan tussen jou gevoel (emosie) en jou wil (verstand). Beide wil beheer hê van jou optrede en jou besluite. Die geveg om beheer vind daagliks in jou plaas en begin die oomblik as jou wekker lui om jou te laat opstaan om stiltetyd te hou of reg te maak vir die dag. Gevoel sê: “lê nog 10 minute” en Wil sê “ek het baie om te doen”… en nou moet jy ‘n besluit neem voor jy behoorlik wakker is en baie van ons kies dan vir die gevoel-antwoord. So begin jou dag dan met ‘n besluit wat geneem is ogv jou emosie en nie met jou verstand nie – en baie ander besluite deur die dag volg dan dié voorbeeld.

● Tweedens gaan dit oor verkeeerde en gemaksugtige gewoontes wat jy oor jare heen aangeleer het. Hierdie gewoontes het jou karakter beïnvloed en maak jou wie jy op die oomblik is. Om heilig voor die Here te leef gaan vra dat jy eers jou karakter sal verander en om dit te doen moet jy jou gewoontes verander en heiligheidsgewoontes aanleer. Onthou gewoontes bepaal karakter en karakter kan alleen verander as jou gwoontes wat te doen het met jou gedagtes, geloof, en optrede verander. In die mate wat jy God se gewoontes soos in die Bybel vir jou gegee aanleer, in daardie mate sal jou karakter ook verander. Dit is met hierdie gesindheid wat ons ons stiltetyd en lees van ons Bybel moet benader...

As jy nou verstaan dat daar ‘n gedurige stryd in jou is om beheer van jou besluite en gewoontes, dan wil ek graag 3 stappe voorstel waarmee jy beheer oor jou besluite en gewoontes kan kry:

 

  1. Die eerste stap is om selfondersoek te doen en vas te stel of jy regtig die verandering in jou lewe wil hê. Hoe belangrik is dit vir jou om God met jou hele hart, siel en verstand te dien? Hoe belangrik is dit vir jou om die Here te plesier met jou gewoontes? Ons wil baie keer die eindresultaat hê sonder dat ons daarvoor wil werk en baklei (bv. Lotto en dieet). Baie van ons sê met oortuiging dat ons ‘n gelukkige huwelik wil hê, maar as jy nie baie hard daaraan werk nie, dryf julle uitmekaar. Baie van ons sê dat ons ‘n intieme verhouding met die Here vwil hê, maar ons is nie bereid om die dinge aan te leer en te doen wat só ‘n verhouding sal bewerkstellig nie. Emosies soek altyd die kortpad na plesier en probeer so beheer oor jou lewe kry en steel jou weg van God af! Emosies maak jou die belangrikste in die verhouding met God en die wil verstaan dat God eerste in jou lewe moet wees!
  1. Die tweede stap is om werklik te bid vir selfdissipline. Baie van ons bid daarvoor met die verwagting dat ek een môre gaan opstaan met ‘n klomp selfdissipline om die wêreld mee te oorwin. Nee, God werk anders, wanneer jy begin bid vir selfdissipline gebeur daar twee dinge in jou lewe.


Die eerste is dat jy meer sensitief en bewus word dat jy selfdisipline kort en die tweede is dat die Here jou in situasies gaan plaas waar jy sal moet bewys dat jy nie deur emosie gedryf word nie. Sonder hierdie situasies sal jy geen oefening kry in die neem van die regte besluite en so ook geen oorwinning smaak oor die sonde wat jou van God wil wegdryf nie. Onthou selfdisipline kom net deur oefening, en oefening en oefening…

  1. Die derde stap is dat jy ‘n spesifieke besluit sal moet neem en daarby hou. As jy bv dieet, daan gaan jy mos nie twee weke lank ophou eet nie? Nee, jy gaan liewer oorbodige etery soos ‘n tweede bord kos of ‘n ekstra skeppie rys begin uitskakel. Jy gaaan sslegte eetgewoontes vervang met goeie eetgewoontes.


Praktiese raad
— Wanneer jou wekker lui, moenie eers dink nie, gly-val uit jou bed op jou kniee en begin dadelik bid. Staan daarna op en gaan sit op ‘n plek, ver van jou bed af, waar jy regtig alleen met die Here kan wees.

— Begin klein en nie met ‘n hoop teologiese boeke en ‘n uur-lange stiltetyd nie, jy begin bloot met ‘n vyf-minute program – lees ‘n boek soos Markus of die Johannesbriewe stelselmatig deur. Luister na ‘n loflied op ‘n CD as inleiding vir jou stiltetyd. Begin uitkyk vir gebruikersvriendelike boeke wat jou kan help met vrae wat mag ontstaan wanneer jy die Bybel lees.

— Kry vir jou ‘n notaboekie waarin jy aantekeninge van vrae en ontdekkings kan maak sodat jy dit later kan opvolg. Skryf sommer die volgende dag se datum in jou boekie as aanmoediging om jou afspraak met die Here na te kom.

— Jy moet ook ‘n vriend gaan vertel (kameraad) van jou nuwe aksie-plan om naby die Here te leef sodat die vriend jou vriendelik kan aanmoedig om te volhard en ook vir jou kan bid. Erken dit maar – almal van ons het iewers ‘n polisieman nodig aan wie ons verantwooding doen, anders kom min dinge gedaan…

— Verder is dit belangrik dat jy nou met ander mense sal begin deel wat jou ervaring en ontdekkings met die Here is – op die manier sal jy die waarhede omtrent God en jou nuwe gewoontes internaliseer en baasraak.

— Volhard met die oefening vir 6 tot 8 weke. Dit sal in die begin wees soos iemand wat begin hardloop om fiks te word. Die eerste paar dae gaan dit wonderlik, dan begin dit vervelig en moeilik raak en die plafon voel of dit hier naby jou kop en God baie vêr is. Met rukke sal dit beter gaan en rukke weer slegter, totdat jy ‘n mate van fiksheid het en nie meer so baie moet insit om aan die gang te bly nie. As jy deurdruk met die oë op Jesus gevestig, sal jy voor jy jou kom kry nuwe en beter lewensgewoontes aanleer en beoefen wat jou naby aaan die Here sal laat leef!

Toewyding
Hierdie inligting wat ek vandag vir julle gee klink dalk eenvoudig maar ek wil jou verseker dat dit lewensnoodsaaklik is, só noodsaaklik dat jy nou ‘n besluit sal moet neem en net jy gaan bepaal of dit ‘n emosionele besluit of ‘n lewensveranderende besuit gaan wees. Terwyl ons die offergawes opneem speel ek ‘n liedjie van Piet Smit “Woorde en dade” ... Daarna as die boodskap jou geraak het sal ons ‘n toewydingslied sing waarin jy jou besluit aan die Here en aan die gemeente, wat dien as getuies, kan bekend maak.

Aanvullende informasie

  • Teks (Bv. Johannes 3:16) 2 Timoteus 3:14 17 (16)
  • Bybelboek 2 Timoteus
  • Voorgestelde liedjies & musiek

    “Oesland” Piet Smit (Snit 2: Woorde en Dade)

  • Bronverwysings

    1. NAV
    2. Personal Holiness in times of Temptation. Bruce Wilkenson p.213ev
    3. Today “Answers by Arnold en Joy Mol” June 1996 p.13
    4. Cd: “Oesland” Piet Smit (Snit 2: Woorde en Dade)

  • Tydsduur (bv. 15 min) 60 minute
  • Kalender (periode) Koninkrykstyd
Gepubliseer in Preek
Woensdag, 12 Junie 2019 11:26

Wat beteken dit om heilig te wees?

Sondag 5 Mei 2019: Escombe: Onderweg na Hemelvaart.

1. Voorafsang

2. Afkondigings

Goeie môre Broers, Susters en Jongmense. Dit is ‘n pragtige oggend waarvoor ons net die Here kan dank. Ek sê dit vir ‘n rede – die mense in Mosambiek het lanklaas so ‘n mooi oggend gesien, want hulle word bomenslik beproef deur siklone; een ná die ander! Maar die afgelope twee weke was vir duisende inwoners van die groter Durban gebied ook uiters traumaties vanweë vloede. Behalwe vir die bykans 100 wat gesterf het, is duisende dakloos gelaat; vernaamlik in Umlazi waar ek die laaste 20 jaar van my werksloopbaan deurgebring het. In die Scottburgh gemeente is daar 54 oumense wat eenvoudig al hulle besittings verloor het. Ons dank ons Hemelse Vader vir hulp wat van oral af ingestroom het. Ek was bevoorreg om Vrydag ‘n hele vrag lewensmiddele by die kerk in Scottburgh te gaan aflaai. Dit was geskenk deur weldoeners in Pietermaritzburg. Daar is egter steeds ‘n nood en as u enigsins hulp van watter aard ookal kan verleen, is u baie welkom om ná die diens met my te kom gesels. Klere, komberse, eetgerei en dié dergelike sal baie welkom wees.

Dit is my voorreg om u hartlik welkom te heet by vanoggend se erediens.  U kon so maklik besluit het om vanoggend liewer op die strand te gaan deurbring, of om eerder na die diens op TV te kyk.  Ek sê nie dit is verkeerd nie, maar die samekomste van die gemeente is tog soveel belangriker vir die Here.  Ons bevind ons vandag in die opmars na Hemelvaart (wat ook deesdae maar baie afgewater herdenk word in ons land).  Daarom kan ek nou vir u met oorgawe sê: “Soos ’n blaar na die grond val; soos die Umgenirivier na die see loop; soos ’n Natalse Wildevy sy takke na die winterhemel oopsprei; soos skape agter hulle oppasser aanloop – so is ons harte nou op die Here gerig.”

Aanvullende informasie

  • Teks (Bv. Johannes 3:16) Johannes 1:19 28
  • Bybelboek Johannes
  • Tydsduur (bv. 15 min) 60 minute
  • Kalender (periode) Hemelvaart
Gepubliseer in Preek
Google+