Preek
Woensdag, 12 Junie 2019 11:26

Wat beteken dit om heilig te wees?

Geskryf deur 
Beoordeel die item
(0 Stemme)

Sondag 5 Mei 2019: Escombe: Onderweg na Hemelvaart.

1. Voorafsang

2. Afkondigings

Goeie môre Broers, Susters en Jongmense. Dit is ‘n pragtige oggend waarvoor ons net die Here kan dank. Ek sê dit vir ‘n rede – die mense in Mosambiek het lanklaas so ‘n mooi oggend gesien, want hulle word bomenslik beproef deur siklone; een ná die ander! Maar die afgelope twee weke was vir duisende inwoners van die groter Durban gebied ook uiters traumaties vanweë vloede. Behalwe vir die bykans 100 wat gesterf het, is duisende dakloos gelaat; vernaamlik in Umlazi waar ek die laaste 20 jaar van my werksloopbaan deurgebring het. In die Scottburgh gemeente is daar 54 oumense wat eenvoudig al hulle besittings verloor het. Ons dank ons Hemelse Vader vir hulp wat van oral af ingestroom het. Ek was bevoorreg om Vrydag ‘n hele vrag lewensmiddele by die kerk in Scottburgh te gaan aflaai. Dit was geskenk deur weldoeners in Pietermaritzburg. Daar is egter steeds ‘n nood en as u enigsins hulp van watter aard ookal kan verleen, is u baie welkom om ná die diens met my te kom gesels. Klere, komberse, eetgerei en dié dergelike sal baie welkom wees.

Dit is my voorreg om u hartlik welkom te heet by vanoggend se erediens.  U kon so maklik besluit het om vanoggend liewer op die strand te gaan deurbring, of om eerder na die diens op TV te kyk.  Ek sê nie dit is verkeerd nie, maar die samekomste van die gemeente is tog soveel belangriker vir die Here.  Ons bevind ons vandag in die opmars na Hemelvaart (wat ook deesdae maar baie afgewater herdenk word in ons land).  Daarom kan ek nou vir u met oorgawe sê: “Soos ’n blaar na die grond val; soos die Umgenirivier na die see loop; soos ’n Natalse Wildevy sy takke na die winterhemel oopsprei; soos skape agter hulle oppasser aanloop – so is ons harte nou op die Here gerig.”


3.  Laat my asseblief nou toe om u vanmôre in die naam van die Here te groet met die woorde van Paulus in Romeine 1: 5 -7 waar hy die volgende sê: “Jesus het my aangestel as sy apostel. Ek moet vir mense van Hom vertel. Ek sê vir hulle om in Hom te glo en Hom te gehoorsaam. Julle (almal hier teenwoordig) tel onder die gelukkiges wat hierdie goeie nuus glo. Christus het julle ook geroep om in Hom te glo. God het julle baie lief. Hy het julle eenkant gesit vir Homself sodat julle Hom voltyds kan dien. Die goedheid en vrede van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus is by julle”

4.  In die Gees van Jesus se opstanding uit die dood sing ons vanoggend Lied 425 verse 1,2 en 3. “Kyk, die Heer het opgestaan”. Kom ons staan daarvoor asseblief.

5.  Die Wet.
Kom ons vra – moet Christene die wet onderhou? Ons kry Jesus se antwoord in Matteus 5 vanaf vers 17 waar Hy sê: “Moenie dink Ek is hier om die Wet van Moses en die profete af te skaf nie. Glad nie. Dit sal altyd voortbestaan, tot aan die einde van die tyd; elke stukkie daarvan. So lank as wat hier nog mense op aarde is en daar nog sterre in die hemel is, sal die wet van God bly staan”.

Vriende, ons weet goed wat die wet van ons vra – eerstens dat ons die Here moet liefhê met alles wat ons het, en tweedens dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself. En dan sê Jesus in vers 19: “As jy alles doen wat die wet sê en ook ander mense leer om presies dieselfde te doen, sal jy definitief ‘n plek kry in God se nuwe wêreld”

6.  Vir vanoggend se geloofsbelydenis versoek ek u om eerbiediglik saam met my die volgende woorde in u hart te spreek: 
“Ek glo in God, die Almagtige Ouer, die God van Rebekka en Jakob, en van elke Leviet en vreemdeling, van elke pelgrim en swerwer op aarde. En in Jesus Christus sy eniggebore Seun, ons Here, wie se liggaam soos ‘n saadkorrel in die grond geplant en opgewek is as eersteling van dié wat gesterf het.
Dit is die Here saam met wie ek in my doop begrawe is om saam met Hom te wees in sy opstanding. Ek glo in die Heilige Gees wat as eerste vrug vir ons gegee is, die voorsmaak van wat vir ons in die toekoms wag.
God is my Reisgenoot wat my in die voorspoedtye van my lewe herinner…  dat ek ’n kind van swerwende Arameërs is; en op aarde self ook ‘n vreemdeling en bywoner; ’n tydelike besoeker op pad na die eendag waarheen my hoop reik.
God is my reisgenoot wat my in die moeilike tye van my lewe herinner… dat ek al so dikwels deur die vloede en storms van die lewe gedra is; en ten spyte van al die hartseer wat ek soms beleef, omvou die Gees van Christus my elke oomblik soos ‘n dooprok".
Amen.

7.  Skriflesing.
Ons lees vanoggend uit die onfeilbare Woord van God en wel uit Johannes 1: 19 – 28.
 “Die Jode het priesters en Leviete van Jerusalem af na Johannes toe gestuur om hom te vra: “Wie is jy?” Toe het hy hierdie getuienis afgelê en dit duidelik en ondubbelsinnig gestel en openlik verklaar: “Ek is nie die Christus nie.” Hulle vra hom toe: “Wie is jy dan? Is jy Elia?” “Nee, ek is nie,” sê hy. “Is jy dan die Profeet?” “Nee!” het hy geantwoord. “Nou maar wie is jy dan? Ons moet 'n antwoord gaan gee aan dié wat ons gestuur het,” sê hulle vir hom. “Wat het jy oor jouself te sê?” Hy antwoord toe: “Ek is die een wat in die woestyn roep: Maak die pad vir die Here reguit.” Dit is soos die profeet Jesaja gesê het. Daar was Fariseërs onder dié wat gestuur is, en hulle het vir hom gevra: “Nou maar waarom doop jy dan, as jy nie die Christus is nie en ook nie Elia nie en ook nie die Profeet nie?” Johannes het hulle geantwoord: “Ek doop met water, maar tussen julle staan daar Iemand vir wie julle nie ken nie. Dit is Hy wat ná my kom, wie se skoene ek nie werd is om los te maak nie.” Dit het oorkant die Jordaan in Betanië gebeur, waar Johannes besig was om te doop”. Tot sover ons Skriflesing.

8. As teksgedeelte neem ek graag vanoggend die hele gelese gedeelte en neem dan die vrymoedigheid om met u te praat oor die vraag: “Wat beteken dit om heilig te wees?

Broers en susters in onse Here Jesus Christus. Ek het al baie gewonder hoe dit sou wees om met die persoon Johannes te gesels. Ek dink nogal hy was iemand wat die jongmense van vandag as “actually weird”  sou beskryf. Ek dink nie ons moderne kerkrade sou hom sommer as predikant beroep het nie. Hoekom nie? 

Want Johannes die Doper was verseker nie aansienlik vir sover dit menseverhoudinge en openbare betrekkinge aangegaan het nie. Markus 1:6 beskryf hom as iemand wat klere van kameelhaar gedra het met 'n leerband om sy heupe (lyk my hy was ‘n hippie), en hy het van sprinkane en veldheuning gelewe. Hy het waarskynlik meesal in die veld gewoon. 'n Mens wil amper vra: Wie sou nou elke Sondag in so ‘n persoon se bakkies wou vaskyk?

Ja, en ook sy boodskap het gepas by sy kleredrag. Sonder om doekies om te draai en sonder fieterjasies het hy mense kaalvuis uitgedaag om hulle te bekeer, want God was aan die kom. En vir Johannes het dit nie saakgemaak of jy Jood, Griek, Hervormer, Baptis, Dopper, Spiritis of sommer almal tegelyk was nie. Nee! Wat vir hom saakgemaak het, was dat jy jouself onder hande neem en jou saak met God regmaak, want Jesus gaan kom, dis verseker. Dit was sy eenvoudige boodskap. Sy styl was onverfynd. Hy het min vriende en baie vyande gemaak. Daarom dink ek nie baie gemeentes sou hom beroep nie.

Maar weet u wat – hy het honderde (miskien selfs duisende) tot bekering gebring.  Markus 1:5 stel dit duidelik dat die hele landstreek van Judea en al die inwoners van Jerusalem na hom toe gestroom het. Hulle het hulle sondes bely en is deur hom in die Jordaanrivier gedoop. In Gerrie Pretorius se TV program “Leef jou reis” was daar Maandagaand baie tonele van hoe dit vandag in Jerusalem lyk. Dit is ‘n wonderlike program waarna u maar gerus kan kyk. Maar wat ek wil sê is dat daar gewis reeds in Johannes se tyd baie mense in Jerusalem en die landstreek van Judea gewoon het – en hulle het na hom gestroom.

Hoe verklaar 'n mens so 'n reaksie?  Dit was beslis nie Johannes se kleredrag, dieet of persoonlikheid nie. Dit was ook nie sy geld of posisie in die samelewing wat namens hom gepraat het nie, want hy het nie een van die twee gehad nie. Maar hoekom dan? Hoekom het die mense so in hulle duisende na hom gestroom? Wat het hy dan gehad?

Hy het iets gehad wat ons met een woord kan vaspen – en dit is heiligheid. Die Doper was heilig. Hy het hom afgesonder vir net een taak, naamlik om die stem van Christus wat sou kom, te wees. Sy hele wese het om hierdie een doelwit gedraai - sy kleredrag; die sprinkane en veldheuning; sy optrede. Sy woorde. Sy eise. Sy alles. Die bybel sê Johannes het sy toehoorders aan Elia of die profeet laat dink.

Maar liewe broers en susters, wat sien ek en jy in Johannes raak?  Ek dink ten minste die volgende:
Jy hoef nie soos die wêreld te wees om op die wêreld 'n indruk te maak nie. Jy hoef ook nie soos die skare te wees om die skare te verander nie. Jy hoef ook nie tot hulle vlak te daal om hulle tot jou vlak te verhef nie. En jy hoef ook nie eienaardig te wees nie. Jy het nie nodig om kameelhare te dra en insekte te eet nie. Hoekom nie?
Want heiligheid probeer nie om buitengewoon te wees nie. Inteendeel, heiligheid probeer om soos God te wees.

As ek en jy graag ‘n verskil wil maak in hierdie ou die wêreld soos wat die Doper in sy wêreld 'n verskil gemaak het - leef dan 'n heilige lewe. Dit is hoe maklik dit is! Of is dit werklik so maklik om byvoorbeeld:
konsekwent te weier om van ander te skinder;
altyd die waarheid te praat, al gaan dit oor onbenullige sake; altyd met geduld en deernis om te gaan met diegene rondom jou; altyd jou skuld te betaal en jou naaste niks anders as liefde te skuld nie; altyd op kantoor te weier om oneerlik te wees; altyd gepas teenoor jou naaste op te tree, selfs al irriteer hy jou mateloos; altyd die werknemer te wees wat jou werk doen sonder om te kla; altyd jou plig te doen en die lewe te geniet; en bo alles nie een boodskap te verkondig en ‘n ander boodskap te lewe nie?

Liewe kosbares, ek het nie hierdie goed sommer net uit my duim gesuig nie.  Let op wat sê Paulus in 1 Tessalonisense 4: 11-12. Hy sê: “Laat dit vir julle 'n saak van eer wees om rustig te lewe. Laat dit ‘n eer wees om julle met julle eie sake besig te hou en self in julle lewensonderhoud te voorsien, soos ons dit aan julle voorgehou het. Dan sal julle eerbare leefwyse die agting van die mense buite die gemeente afdwing”.

'n Rustige lewe, broers en susters, soos Paulus dit hier beskryf, (glo dit gerus) -  lei daartoe dat gelowige mense deur ongelowige mense gerespekteer word. U kan dit maar gaan toets. Dit is die waarheid. Wat sou byvoorbeeld gebeur het as Johannes se eie lewe nie in ooreenstemming was met sy harde woorde nie? Wat as hy bekering verkondig het maar immoreel of sondig geleef het? Wat as hy mense opgeroep het tot heiligheid maar bekend was vir sy oneerlikheid? Wat as Johannes die Doper se lewe nie ooreengestem het met Johannes die mens se lewe nie?

Sy boodskap sou op dowe ore geval het, en baie mense sou verbygestap het waar hy besig was om te preek, al kopskuddend met 'n siniese glimlag (of grynslag) om die mond. En presies dieselfde geld vir my boodskap aan u vanoggend, broers en susters. Wie bekering skree, of elke dag net oor Jesus wil praat, maar agteraf konkel; dwing geen respek af nie. Mense is onmiddellik agterdogtig. Wie pragtige en teologies korrekte belydenisse oor God uitspreek, maar nie 'n naaste vir sy naaste is, of wil wees nie, dwing geen respek af nie. En kom ons sê dit maar weer: Mense let meer op na hoe ons optree as wat hulle luister na wat ons sê. Die gesegde lui mos: “Woorde wek, maar voorbeelde strek”. Dit is ‘n uiters korrekte sêding.

Kom ek beklemtoon dit met 'n spesifieke voorbeeld: Franciscus van Assisi, die baie bekende monnik, het op 'n keer 'n jong monnik genooi om saam met hom in die dorp te gaan preek. Die twee het afgeloop in die hoofstraat, en toe heen en weer in verskeie systrate. Hulle het die inwoners gegroet en met sommige van die smouse gesels. Na 'n rukkie het hulle langs 'n ander roete teruggegaan na die klooster toe.

Die jongman kon dit nie meer uithou nie en het vir Franciscus daaraan herinner dat die eintlike doel dat hulle dorptoe gegaan het, was om te gaan preek.   “My seun”, het Franciscus geantwoord: “Ons het gepreek. Baie mense het ons gesien. Hulle het ons gedrag fyn dopgehou en ons gesindheid noukeurig bepaal. Hulle het gehoor waaroor ons praat. So het ons ons preek gelewer”.

Net so, broers en susters, was Johannes vir Christus ‘n stem met baie meer as net sy stem. Sy lewe het by sy woorde gepas. En as iemand se woorde en optrede dieselfde is, is die uitwerking daarvan soos die trefkrag van dinamiet. Maar as iemand een ding sê, en iets anders doen, is die gevolge een groot ramp! Dit is hard om dit te sê, maar ons is nie Christene omdat ons die naam Christen dra nie, maar omdat ons die lewe van 'n Christen leef.  Kom ons neem die alledaagse lewe as voorbeeld.  Dit is jou leefwyse wat vir jou “naam maak”, en nie die naam wat jou ouers aan jou gegee het nie. 

Luister hoe pragtig die volgende verhaal dit illustreer:
'n Paartjie was aan die stry oor 'n naam vir hulle babatjie. Uiteindelik is hulle, omdat hulle nie op 'n naam kon ooreenkom nie, na die predikant om die saak te probeer beredder. “Wat is die probleem?”, het die predikant gevra. Die vrou het eerste gepraat: “Hy wil die seun na sy pa vernoem en ek wil die seun na my pa vernoem'.

“Wat is jou pa se naam,” vra die predikant vir die man. “Josef”, antwoord die man. “En wat is jou pa se naam,” vra die predikant vir die vrou. “Ook Josef,” antwoord die vrou. Die predikant was verslae. “Maar wat is dan die probleem?” het hy gevra.
Die vrou sê toe:  “Dominee sien, dit werk so -  sy pa was 'n perdedief en 'n leuenaar, en my pa was 'n regverdige en opregte man. As ons ons seun Josef noem, hoe sal ek weet of my seun na my pa of na sy pa vernoem is?”
Die predikant het toe nagedink en geantwoord: “Noem die seun Josef. En dan kyk julle of hy 'n perdedief en leuenaar, of 'n regverdige en opregte man word. Daarna sal julle weet wie se naam hy dra.”

Met ander woorde, broers en susters, om jouself kind van God te noem, is een ding. Om 'n kind van God genoem te word deur diegene wat jou lewe dophou, is geheel en al iets anders. Die Doper het Jesus se koms na die aarde voorberei. Hy het deur sy optrede gesê dat die koninkryk besig was om aan te breek. En hy was reg. En in hierdie tyd, net ná paasfees, dink ons aan daardie selfde God wat op pad is hemeltoe.  Ons leef in die volgende paar weke in die tyd nadat Jesus opgestaan het uit die graf en voor sy hemelvaart. Dit ly geen twyfel hoegenaamd dat Hy die Allerheiligste was en is nie – meer heilig as wat Johannes ooit sou kon wees.

En nou is die vraag: hoe leef ons (as sy aardse ewebeeld) in hierdie tyd? Nie net in hierdie tyd nie - hoe leef ons elke dag? Dra ons die naam Christen omdat ons sê ons glo, of word ons so deur ander genoem omdat ons heilig lewe? Lewe ons so dat ons ook, waar ons lewe en werk, aan die wêreld toon dat Jesus reeds uit die dood opgestaan het; en ons saam met Hom? Dat hy mense se lewens kom verander het? Dat Hy mense so kom verander het dat hulle heilig kan lewe?

Met ander woorde, lei ons of mislei ons? Is ons die naam Christen, veral in hierdie tyd, werd? Is ons net ‘n mooi prentjie van ‘n Christen of maak ons werklik ‘n verskil daar waar ons lewe – by die kantoor; op die sportveld, daar waar ons Woensdag ons kruisie gaan trek, of daar waar ons alleen in ons huise verkeer?  Die Doper, met kameelhaarklere en al, het 'n reuseverskil gemaak; daarom is hy Elia of een van die profete genoem. Jesus het 'n verskil kom maak, daarom is Hy die Christus genoem. Maak u en ek ook so 'n verskil dat ons waarlik Christene genoem kan word? Amen.

9.  Gebed. Kom ons bid:
Here‚ hoe maklik is dit nie vir ons om te sê dat ons heilig is; en dan andere te bespreek en te oordeel nie! Leer my tog opnuut Here om geduldig en dankbaar voor U te lewe en om my dae só te gebruik dat ek wysheid mag bekom, sodat ek die naam Christen deur en deur werd is. Dankie Hemelse Vader dat U in u almagtige wysheid besluit het om beskeie, eenvoudige mense soos Johannes aan u kinders in die wêreld beskikbaar te stel. Dankie dat U ook al sy lewensdae in u boek opgeskrywe het nog voordat hy gebore was. Elkeen van ons se dae is getel.  Tot by die laaste een. Dankie dat dit U is wat dit getel het.

Dankie dat daar vir ons ‘n horison van hoop bestaan;  ‘n overture tot ‘n hoër en ryker lewensorde. En dankie dat U vanoggend weer vir ons die versekering gee dat dit nooit buite ons bereik is om, soos Die Doper, heilig te lewe nie.  Ons bid vanoggend vir elkeen in hierdie kerk wat miskien ernstig ly omdat hy of sy iets in die verlede beleef het wat ‘n blywende wond veroorsaak het. Miskien iemand Here, wat nie die hartseer van die dood van ‘n geliefde kan verwerk nie. Ons wil diegene vanmôre aan U voete kom neersit en vir U kom vra om hulle lewe te verlig en hulle weer blymaak om te lewe, in die wete dat U juis deur hulle hartseer vir hulle wil sterkmaak. Gee dat hulle sal besef dat U aan die anderkant van daardie donker tonnel staan en wag met die wonderlike tyding – “jy is myne; jy behoort aan my”.

Here, ons bid opnuut vir elkeen wat siek is en u hulp dringend nodig het. Dit is ons gebed Here, dat U vir elkeen van hulle onder u beskerming sal neem en hulle ooreenkomstig U wil, sal gesondmaak.  So bid ons ook ernstig vir almal wat in die pasafgelope verlede gely het of selfs ‘n geliefde aan die dood afgestaan het tydens die vloede wat KZN en Mosambiek getref het. Duisendes is dakloos gelaat. Net soos hulle, het ons dit vele male in ons lewe ervaar dat ons wegsink en meegevoer word deur die strome van die lewe wat ons na onder wil aftrek. Maar ons het ook in beslissende momente in ons lewe ondervind dat ons opgetel en hoog bo die water gedra word. Daarom is dit ons gebed in kinderlike opregtheid dat U diesulkes sal vertroos en naby aan u boesem sal vashou. Ons bid dit alles in U heilige Naams ontwil. Amen.

10.  U kry nou geleentheid om die Here met u offergawes te dien.

11.  Kom ons sluit vanoggend se diens af met die immergroen Lied no 212. Ons sing verse 1, 2 en 3. “Loof die Heer, Hy is goed.”

12.  Die Here stuur vir my en vir jou vanoggend huistoe met die woorde van Johannes 19 vers 23: “Wanneer julle mense help om hulle verhouding met God reg te maak, sal hulle verhouding met God reg wees”. Totdat ons weer ontmoet, mag die reën sag val op jou land, en mag die Vader, die Seun en die Heilige Gees jou behoed in die palm van die hand.

13.  Die gemeente sing Amen.

Aanvullende informasie

  • Teks (Bv. Johannes 3:16): Johannes 1:19 28
  • Bybelboek: Johannes
  • Tydsduur (bv. 15 min): 60 minute
  • Kalender (periode): Hemelvaart
Lees 1279 keer
L Radyn

Afgetrede landdros. Sedert 1986 'n leke prediker in die NG Kerk.

Nuutste van L Radyn

Verwante items (op etiket)

  • Hoe belangrik is Stiltetyd?

    Wat dink julle van die volgende stelling?

    Ek sukkel met my stiltetyd. Dis so moeilik om op te staan en Bybel te lees… Ek sukkel ook met ander dinge in my lewe, soos ooreet, woedebuie en pornografie. Ek bid vir selfdissipline – maar dit wil nie werk nie!

    Mag ek vra hoeveel van julle met hierdie probleem spook?
    Ja, ek het gedink dat baie hierdie probleem het.

    Die antwoord op hierdie probleem is aan die een kant baie maklik en aan die ander kant baie moeilik. Die moeilike antwoord het te doen met ons gesindheid en die maklike antwoord te doen met ons optrede of lewensgewoontes.

    Kom ons begin by die gesindheidsantwoord:
    Hier gaan dit oor jou verstaan van heilig lewe voor God. Is dit jou lewensdoel om ‘n ‘n intieme verhouding met God te lewe?  ‘n Heilige lewe behels dat ek:
    -   alles wat skeiding maak tussen my en God uit die weg sal ruim
    -          gedurig sal wegdraai van sonde en ‘n voortdurende afsonder tot God
    -          God alleen sal gehoorsaam
    ‘n Heilige lewe voor God is ook die aantrekkingskrag na God – en daarsonder is stiltetyd gewone pligspliging en/of word dit deur skuldgevoelens gedryf.

    Die optrede-antwoord:
    Paulus het eenmaal uitgeroep “Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maar die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek”. Ek dink hy was redelik desperaat toe hy dit gesê het – en ek dink baie van ons sal baie goed verstaan wat in sy gedagtes omgegaan het, veral as ons gesels oor ons intieme verhouding met die Here en ons stiltetyd. Tog gaan dit hier oor doodgewone optredes of handelinge. Jy weet wat reg is en jy weet dat jy naby God moet leef – jy’t Hom mos lief, maar kom nie daarby uit nie. Hoe moet jy dan maak om hierdie allerbelangrike verhouding prakties te beleef?

    Jy moet eers 2 belangrike redes verstaan waarom jy so sukkel…

    ● Eerstens is daar die konflik wat bestaan tussen jou gevoel (emosie) en jou wil (verstand). Beide wil beheer hê van jou optrede en jou besluite. Die geveg om beheer vind daagliks in jou plaas en begin die oomblik as jou wekker lui om jou te laat opstaan om stiltetyd te hou of reg te maak vir die dag. Gevoel sê: “lê nog 10 minute” en Wil sê “ek het baie om te doen”… en nou moet jy ‘n besluit neem voor jy behoorlik wakker is en baie van ons kies dan vir die gevoel-antwoord. So begin jou dag dan met ‘n besluit wat geneem is ogv jou emosie en nie met jou verstand nie – en baie ander besluite deur die dag volg dan dié voorbeeld.

    ● Tweedens gaan dit oor verkeeerde en gemaksugtige gewoontes wat jy oor jare heen aangeleer het. Hierdie gewoontes het jou karakter beïnvloed en maak jou wie jy op die oomblik is. Om heilig voor die Here te leef gaan vra dat jy eers jou karakter sal verander en om dit te doen moet jy jou gewoontes verander en heiligheidsgewoontes aanleer. Onthou gewoontes bepaal karakter en karakter kan alleen verander as jou gwoontes wat te doen het met jou gedagtes, geloof, en optrede verander. In die mate wat jy God se gewoontes soos in die Bybel vir jou gegee aanleer, in daardie mate sal jou karakter ook verander. Dit is met hierdie gesindheid wat ons ons stiltetyd en lees van ons Bybel moet benader...

    As jy nou verstaan dat daar ‘n gedurige stryd in jou is om beheer van jou besluite en gewoontes, dan wil ek graag 3 stappe voorstel waarmee jy beheer oor jou besluite en gewoontes kan kry:

     

    1. Die eerste stap is om selfondersoek te doen en vas te stel of jy regtig die verandering in jou lewe wil hê. Hoe belangrik is dit vir jou om God met jou hele hart, siel en verstand te dien? Hoe belangrik is dit vir jou om die Here te plesier met jou gewoontes? Ons wil baie keer die eindresultaat hê sonder dat ons daarvoor wil werk en baklei (bv. Lotto en dieet). Baie van ons sê met oortuiging dat ons ‘n gelukkige huwelik wil hê, maar as jy nie baie hard daaraan werk nie, dryf julle uitmekaar. Baie van ons sê dat ons ‘n intieme verhouding met die Here vwil hê, maar ons is nie bereid om die dinge aan te leer en te doen wat só ‘n verhouding sal bewerkstellig nie. Emosies soek altyd die kortpad na plesier en probeer so beheer oor jou lewe kry en steel jou weg van God af! Emosies maak jou die belangrikste in die verhouding met God en die wil verstaan dat God eerste in jou lewe moet wees!
    1. Die tweede stap is om werklik te bid vir selfdissipline. Baie van ons bid daarvoor met die verwagting dat ek een môre gaan opstaan met ‘n klomp selfdissipline om die wêreld mee te oorwin. Nee, God werk anders, wanneer jy begin bid vir selfdissipline gebeur daar twee dinge in jou lewe.


    Die eerste is dat jy meer sensitief en bewus word dat jy selfdisipline kort en die tweede is dat die Here jou in situasies gaan plaas waar jy sal moet bewys dat jy nie deur emosie gedryf word nie. Sonder hierdie situasies sal jy geen oefening kry in die neem van die regte besluite en so ook geen oorwinning smaak oor die sonde wat jou van God wil wegdryf nie. Onthou selfdisipline kom net deur oefening, en oefening en oefening…

    1. Die derde stap is dat jy ‘n spesifieke besluit sal moet neem en daarby hou. As jy bv dieet, daan gaan jy mos nie twee weke lank ophou eet nie? Nee, jy gaan liewer oorbodige etery soos ‘n tweede bord kos of ‘n ekstra skeppie rys begin uitskakel. Jy gaaan sslegte eetgewoontes vervang met goeie eetgewoontes.


    Praktiese raad
    — Wanneer jou wekker lui, moenie eers dink nie, gly-val uit jou bed op jou kniee en begin dadelik bid. Staan daarna op en gaan sit op ‘n plek, ver van jou bed af, waar jy regtig alleen met die Here kan wees.

    — Begin klein en nie met ‘n hoop teologiese boeke en ‘n uur-lange stiltetyd nie, jy begin bloot met ‘n vyf-minute program – lees ‘n boek soos Markus of die Johannesbriewe stelselmatig deur. Luister na ‘n loflied op ‘n CD as inleiding vir jou stiltetyd. Begin uitkyk vir gebruikersvriendelike boeke wat jou kan help met vrae wat mag ontstaan wanneer jy die Bybel lees.

    — Kry vir jou ‘n notaboekie waarin jy aantekeninge van vrae en ontdekkings kan maak sodat jy dit later kan opvolg. Skryf sommer die volgende dag se datum in jou boekie as aanmoediging om jou afspraak met die Here na te kom.

    — Jy moet ook ‘n vriend gaan vertel (kameraad) van jou nuwe aksie-plan om naby die Here te leef sodat die vriend jou vriendelik kan aanmoedig om te volhard en ook vir jou kan bid. Erken dit maar – almal van ons het iewers ‘n polisieman nodig aan wie ons verantwooding doen, anders kom min dinge gedaan…

    — Verder is dit belangrik dat jy nou met ander mense sal begin deel wat jou ervaring en ontdekkings met die Here is – op die manier sal jy die waarhede omtrent God en jou nuwe gewoontes internaliseer en baasraak.

    — Volhard met die oefening vir 6 tot 8 weke. Dit sal in die begin wees soos iemand wat begin hardloop om fiks te word. Die eerste paar dae gaan dit wonderlik, dan begin dit vervelig en moeilik raak en die plafon voel of dit hier naby jou kop en God baie vêr is. Met rukke sal dit beter gaan en rukke weer slegter, totdat jy ‘n mate van fiksheid het en nie meer so baie moet insit om aan die gang te bly nie. As jy deurdruk met die oë op Jesus gevestig, sal jy voor jy jou kom kry nuwe en beter lewensgewoontes aanleer en beoefen wat jou naby aaan die Here sal laat leef!

    Toewyding
    Hierdie inligting wat ek vandag vir julle gee klink dalk eenvoudig maar ek wil jou verseker dat dit lewensnoodsaaklik is, só noodsaaklik dat jy nou ‘n besluit sal moet neem en net jy gaan bepaal of dit ‘n emosionele besluit of ‘n lewensveranderende besuit gaan wees. Terwyl ons die offergawes opneem speel ek ‘n liedjie van Piet Smit “Woorde en dade” ... Daarna as die boodskap jou geraak het sal ons ‘n toewydingslied sing waarin jy jou besluit aan die Here en aan die gemeente, wat dien as getuies, kan bekend maak.

Meer in die kategorie: « Geloofsoë
Google+