Wys items op etiket: paasfees

Vrydag, 03 April 2015 14:41

Vergifnis vra vergifnis - dit maak nuut!

Paassondag gaan oor nuut en vars lewe. Jesus het deur sy oorwinning oor die dood vir ons ‘n nuwe lewe – die ewige lewe – moontlik gemaak. Ek’t gewonder hoekom ons (Christene) nie nuut lewe nie? Hoekom is die lewe dikwels so afgesaag en treurig vir ons? Hoekom is dit nie altyd lekker om Christen te wees en om vir die kerk te werk nie?

“Nuut” behoort tog te beteken dat daar varsheid en aksie teenwoordig moet wees!
Die Nuwe Testament veral, is vol daarvan dat Christene nuut of selfs anders moet leef – dat ons ‘n verskil in die wêreld sal maak...

Ek dink daar is twee soorte “Nuut” waarvan ons vandag kennis moet neem. Maar voor ek  die twee soorte nuut verduidelik moet ek  eers vir julle die sleutel gee waarmee ‘n mens “Nuut” sal verstaan en daarom wil ek nou enige van julle slimmes uitnooi om vir my die woord “vergifnis” op die bord te kom skryf/spel.

(Wanneer die persoon “vergifnis” skryf word hy/sy reggehelp, want die regte spelling is “G.E.N.A.D.E.”. )

Ja, sonder genade kan daar nie sprake van nuut lewe wees nie! Die sleutel tot nuut leef is genade en om genade te ontvang moet jy vergifnis vra vir jou skuld.
Ons weet almal dat ons elke dag uit God se genade leef maar dit maak ons nie noodwendig nuut leef nie...

Ek wil julle herinner aan ‘n vertelling in die  Bybel van ‘n koning wat sy amptenaar miljoene rand afgeskryf het en hom ‘n kans op ‘n nuwe lewe gegee het. Om meer te verstaan wat “nuut” beteken, kom ons lees Mat.18:21-35 saam.

Die koning
Die koning het vir ons gedemonstreer hoe genade of vergifnis lyk/ klink. Die koning het die amptenaar ‘n nuwe begin sonder skuld en laste gegee. Hier sien ons wat vergifnis aan iemand doen - dit gee hom ‘n tweede kans waar daar nie eers ‘n kans was nie! Vergifnis maak nuwe lewe moontlik!!!

Die amptenaar
Die amptenaar vir wie ‘n nuwe begin gegee is kom skielik voor ‘n belangrike keuse in sy lewe te staan. Hy loop ‘n medeamptenaar raak wie hom geld skuld. In plaas daarvan dat hy genade betoon en vergifnis gee, ignoreer hy sy medeamptenaar se pleitroep en laat hom in die tronk gooi. Die amptenaar kon nie sy medeamptenaar ‘n nuwe lewe gun soos wat hy ontvang het nie.

Die medeamptenaar
Die medeamptenaar pleit om genade maar pure verniet.  Hy het te doen met ‘n harde amptenaar hier voor hom wat sy eie reg wil laat geskied – ‘n man wat nie besef hoeveel genade aan hom betoon is nie – hy sou nooit sy skuld kon betaal nie en is vergewe, maar die medeamptenaar sou kon betaal, maar word nie vergewe nie. Die medeamptenaar se nuwe lewe word van hom weggevat en in die plek daarvan kry hy ‘n helse lewe in die  tronk.

Die gevolg
Die gevolg hiervan is dat die amptenaar weer voor sy koning beland en dat sy nuwe lewe ook weggeneem word – nie net word sy nuwe lewe weggeneem nie,  maar ook die van sy vrou en kinders!

Vergifnis is God se sleutel vir die nuwe lewe.
Het jy al gewonder waarom dinge so skeef loop in jou lewe, nee, ek praat nie van ongelukke nie, maar van die ongelukkigheid hier diep binne in jou hart - dinge maak jou nie sommer bly nie - jy leef maar eentonig van dag tot dag voort – bid teen die plafon vas... Mat.18:35 en 6:14-15 vertel ons wat ons probleem kan wees! (lees)

Ja, hier word ‘n voorwaarde vir vergifnis gestel. Jy moet eers vergewe, dan sal God jou vergewe.
Kom ek verduidelik wat hier aangaan met behulp van ‘n demonstrasie.

  1. Gebruik doopbak as voorbeeld van God se ‘genadepoel’ – ons het dit almal nodig om te kan lewe (lewende water).
  2. Vra drie vrywilligers om om te help – elkeen gebruik om die volgende rolle te vervul. (Staan rondom genadepoel).


Die koning (God)
Sê nou jy is ongered - hoe sou jy maak om van God se genadepoel te drink? Ja, jy smeek voor die Koning vir vergifnis van jou onbetaalbare sonde. Die hemelse Koning reageer deur jou te vergewe en jou ‘n nuwe lewe te gee in sy Koninkryk. Al wat dit van jou vra is om die genade te aanvaar en te drink van die Lewende water.

Die amptenaar (Gelowige)
Nou ís jy gered van die hel én jy het die Ewige Lewe – DIE NUWE LEWE ontvang.  Hoe maak jy nou om elke dag van die ganadepoel of lewende water te drink? Jy vra daarvoor – jy vra daagliks “Here, vergewe my  my sonde? - maar God stel ‘n voorwaarde vir jou – jy moet eers jou broer en suster gaan vergewe.

Die medeamptenaar (Naaste)
Medegelowiges en ongelowiges kruis jou pad elke dag. Van hulle het jou skade aangedoen. Nou pleit hulle voor jou vir vergifnis.  Hulle vra genade van jou soos jy van God genade gevra het. Jy moet nou besluit wat jy gaan doen.

Die gevolg
As jy jou verhard en hulle nie vergifnis en ‘n nuwe lewe gun nie – dan, volgens die Bybel, sal  jy jou kans om van die genadepoel te drink ontneem word – sal jou nuwe lewe wat jy ontvang het van die Koning ‘n lewe van ongelukkigheid en eentonigheid word. ‘n Lewe wat vir niks en niemand iets beteken nie. Jy bly nog gered en  sal Hemel toe gaan, maar dit sal soos die Bybel sê  “soos deur vuur heen” wees.

Aan die ander kant, as jy jou medegelowige en die ongelowige genade betoon en vergewe, sal jy toegelaat word om weer van God se genadepoel te drink – en dit sal jou lewe elke dag nuut en vars maak!
(Die helpers kan gaan sit, dankie)

Nou mag julle vra “wat nou van die twee soorte nuut waarvan jy gepraat het?
1. Die eerste soort nuut is die keer waar jy die eerste keer van God se genadepoel drink en Hy jou vergewe van jou sondigheid en jou die nuwe lewe gee. Dit is ‘n eenmalige gebeurtenis.

2. Die tweede soort nuut is die nuut wat ons elke dag moet lewe. Daarvoor het jy voortdurend vergifnis nodig. Die manier om dit te kry is om ander mense te vergewe – sodat hulle vry kan wees en ook nuut kan lewe. Dit word ook liefde of naasteliefde genoem – dit is ook die manier hoe ongelowige mense tot geloof kom – deur ons voorbeeld –verfgifnis!

Waarom is dit nodig dat ons moet weet van die twee soorte nuut?
Elkeen van ons sal moet besluit of ons waarlik nuut wil lewe en dit vir ons dorp en omgewing en die wye wêreld moontlik wil maak om nuut te lewe...

As amptenare van die Koning sal  ons vergifnis aan medeamptenare en aan ongelowiges moet gee – en vir hulle demonstreer hoe om te vergewe!

Ons normale omgang met mekaar behoort die te wees van  mekaar in liefde vergewe.
Ons evangelisasie en sending-aksies  behoort so gedoen te word dat mense tot nuwe geloof of ‘n nuut ontdekte geloof sal kom.

Slot
God het jou wel van jou algemene sondigheid vergewe toe jy jou na Hom gekeer het, maar nou verwag Hy dat jy sal doen soos Hý. Jy moet reageer met vergifnis.

Jóú volgende vergifnis hang grootliks daarvan af of jy kan vergewe. Jou nuwe lewe hang af daarvan of jy nuwe lewe gee...

Hoe belangrik is God se vergifnis vir jou – soveel dat jy enige-iemand sal vergewe?
In hierdie gedeelte bid ons dat God sal maak soos ons maak! Ons kan nie verwag dat God met ons doen wat ons nie bereid is om aan iemand anders te doen nie.

God het ons boonop gewys hoe vergifnis werk - Hy het sy Seun geoffer sodat ons miljoeners in vegifnis kan word. As God vir ons vergifnis gee, is dit nie om dit net vir onsself in ons eie ‘bank’ op te gaar nie. Nee, hoe meer ons uitdeel, hoe meer kan ons van God verwag.

Wanneer ons nie vergifnis uitdeel nie dan is dit soos ‘n dam aan die einde van ‘n rivier waarin alles begin vrot en modder word omdat daar geen deurvloei is nie en die gevolg is dat ons ongelukkig is en vreugdeloos lewe. Geluk en vreugde is nodig om elke dag en elke oomblik NUUT te benader. Vergifnis moet vergifnis gee om nuutheid en varsheid te bring! Vergifnis is God se sleutel waarmee die nuwe lewe oopgesluit word en Hy verwag van ons om die sleutel aan te gee... doen ons dit nie, word ons zombies – vreugdeloos – nee, die teenoorgestelde van nuut – dood!

Geel strikkies
Ek sal  ‘n growwe fout begaan as ek julle vandag hier los en nie help om die eerste stap tot verginis te  neem nie. En daarom wil ek julle vertel van ‘n verhaal – eintlik ‘n liedjie.

Daar was ’n man in ‘n tronk wat sy familie in skande gesteek het. Hoe nader dit aan sy vrylating kom hoe banger was hy om huis toe te gaan. Sê nou maar hulle gaan hom verwerp? Hy skryf toe ‘n briefie en vra dat ‘n geel strikkie aan die boom gegang word as hy welkom is, anders sal hy maar net in die trein bly en verbygaan. Met sy aankoms was die hele boom vol geel strikkies!

Ons onderskat dikwels God se vergifnis en wonder of Hy ons nog wil hê.
As jy weer wonder of die Here jou wil hê, kyk op na die Golgota-gebeure want daar staan ‘n “boom” oortrek met geel strikke! Die Here nooi jou om na Hom toe te kom as jy vermoeid en belas is- as jy sonder vreugde is omdat jy ander nie die nuwe lewe gegun het nie, om nou die besluit te neem en reg te maak...

♦ Kom ons keer terug na die vraag wat ek aan die begin vir julle gevra het en wat jy dalk nou anders sal  verstaan: “wat sal jou help om nuut te lewe?”

♦ Dink nou na oor ‘n onlangse stuk genade wat God aan jou betoon het - iets wat jou lewe ingrypend verander het of jou lewe totaal misrabel sou gemaak het, as dit nie vir God se genade was nie...
♦ Dink nou aan iets/iemand wat jou vergifnis dringend nodig het om weer te kan lewe.
♦ Dink nou weer wat God van jou verwag volgens Mat. 6:14-15.
♦ As dit jou voorneme is om uit dankbaarheid vir God se genade en vergifnis aan jou, nou ander mense en sake te vergewe, word jy nou genooi om stil op te staan en vir jou ‘n geel strikkie/ kaartjie van die kruis af te gaan haal as ‘n simboliese gebaar van jou besluit om nuut te leef en om ander die nuwe lewe te help kry. As jy nog eers wil dink daaroor kan jy gerus ‘n geel kaartjie neem om jou te herinner daaraan dat God op jou antwoord wag.

(Speel Willie Joubert se “Net U bloed” terwyl mense vorentoe stap.)

AMEN.

Aanvullende informasie

  • Teks (Bv. Johannes 3:16) Matteus 18:21 35
  • Bybelboek Matteus
  • Illustrasies & Hulpmiddels

    Wit skryfbord of truprojektor.
    Doopbak (genadepoel) + Drie vrywillegers.
    Geel strikkies of kaartjies en hout kruis.

  • Voorgestelde liedjies & musiek

    Willie Joubert se liedjie - Net U bloed 
    Aanvangslied: lied 409:1-3
    Loflied: lied 417:1-2
    Offergawes: lied 308:4
    Slotsang: lied 422:1-3

  • Bronverwysings

    1. NAV. 1987. Bybelgenootskap van SA. Nasionale Boekdrukkery.

    2. Liedboek van die NG Kerk

  • Tydsduur (bv. 15 min) 60 minute
  • Kalender (periode) Paasfees
Gepubliseer in Preek
Google+