Wys items op etiket: bekering

Sondag, 05 April 2015 00:06

Braak vir julle 'n Braakland

Inleiding:

Jare terug toe ek nog sommer ‘n klein seuntjie was, was daar aan my pa se kant van die bed teen die kamermuur ‘n prent geplak wat van die P.P.K se tydskrif afgekom het, wat my seker altyd sal bybly, dit was van ‘n man wat in ‘n geploegde land sit, met die ploeg en die os so ‘n entjie agter hom, hy het op sy knieë gesit, met die Bybel voor hom oop, terwyl sy gesig en hande hemelwaarts gerig was en dan bo aan was die woorde van vers 3 aangehaal, “braak vir julle ‘n braakland” as jong kind het ek dit nie regtig verstaan nie, maar tog het dit my bygebly, en terwyl ek in die week stil word en die Woord van God oopmaak en die gedeelte lees toe ek onthou ek ewe skielik, asof dit gister was wat ek gestaan het en vir my pa gevra het wat staan daar bo op die blaai geskryf ? God is groot, en die Here maak hierdie Skrif vir my so mooi oop en ek besef weereens hoe belangrik gebed is in die kind van die Here se lewe, hoe belangrik dit is om stil te word om God se stem te hoor, om Sy Woord oop te slaan en te lees.

‘n Ander saak wat weereens tot my deurgedring het, al verstaan jy nie wat jy op daardie oomblik lees nie, moenie net opgee en sê jy verstaan nie, vra die Here om dit vir jou oop te maak of duidelik te maak, dit is waarom Jesus ons die Heilige Gees nagelaat het om ons te leer en te lei in die volle waarheid, al word dit nie dadelik vir jou duidelik nie, dit sal wel op die regte tyd vir jou oopgaan.


God se Woord is onfeilbaar en bereik altyd dit waartoe Hy dit stuur, die Woord van God keer nooit ledig terug nie.
Isa 55:11 so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.

  1. Oproep tot bekering:


Hierdie hoofstuk begin met die dringende oproep van God tot Sy volk om hulle te bekeer, te bekeer tot Hom, die God van hemel en aarde, die God wat hulle uit slawerny uitgelei het, uit Egipteland gelei het, Hy roep Sy volk om weer terug te draai na Hom. Egipte is ‘n tipe van die slawerny van sonde, die dag toe jy Jesus Christus aangeneem het as Verlosser en Saligmaker het Hy jou uitgelei uit die slawehuis van sonde en Hy het jou ingelei in die huis van die Vader, jy het deel geword van die huis van God. Israel, die volk van God, word opgeroep tot bekering !! Wat beteken bekering ? Kom ons staan ‘n ppmblik stil by die woord bekering.
be•ke´ring (-e, -s)

1.Verandering van hart, afkeer van die sonde: Tot bekering kom, bring.
Verandering van hart, God roep Sy volk op om ‘n hartsverandering te ondergaan, so roep Hy vir jou en my vandag om ‘n hartsverandering te ondergaan, om toe te laat dat Hy jou hart weer aanraak. God se volk word opgeroep tot bekering, maar duidelik word gespesifiseer, bekeer jou tot My, m.a.w verandering van hart tot MY, God wil dat jy jou hart op Hom plaas, dat jy jou hart fokus op God. Wanneer jou hart tot God gerig is wanneer jy jou bekeer tot God, dan hoef jy nie rond te swerwe nie, want jy het tuis gekom by die Koning van die konings. In hierdie lê daar ook vir jou en my ‘n waarskuwing, God praat met Sy volk, om hulle op te roep tot bekering, Hy praat nie met heidene nie, Hy praat met Sy volk. Dit het gebeur dat Israel begin het om hulle verwagting in ander plekke en ander afgode gesit, nou roep God hulle om hulle harte tot Hom te wend, dan sal hulle nie hoef te swerwe nie.

Vandag is die vraag vir jou en my, wat het dalk veroorsaak dat ons harte gefokus geraak het op ander dinge as Christus Jesus, iets of iemand anders as God Almagtig ? Vestig jou hart op God, wanneer daar gehoor gegee word aan hierdie oproep tot bekering dan sal jy sweer, of ‘n eed aflê met die woorde: “So waar as die Here leef ! in waarheid, in reg en geregtigheid; en die nasies sal hulleself in Hom seën an hulle in Hom beroem. Die nasies rondom die volk van God sal deur God geseën word, hulle sal hulleself in Hom seën, ons is geseën in Jesus Christus, onthou dat Jesus nie net die Seun van God is nie, maar God self. En hulle in Hom beroem. Wanneer my en jou hart onverdeeld op God gevestig is, dan sal ons geseënd wees in Hom, en die wêreld daarbuite sal weet, dat Jesus leef, want hulle lees baie keer nie die Bybel nie, jy is die enigste Bybel wat sommige mense ooit sal lees, wat lees mense in jou lewe, lees hulle in jou lewe dat jou hart onverdeeld op God gerig is. Indien jou hart vandag nie onverdeeld op God gerig is nie, gee gehoor aan die oproep tot bekering, die oproep tot die verandering van hart tot God.

2. Detail van die oproep tot bekering( verandering van hart) :

Die Here sê aan die manne van Juda en Jerusalem: “Braak vir julle ‘n braakland en saai nie onder die dorings nie” Braak vir julle ‘n braakland, dit klink snaak as ‘n mens dit die eerste keer hoor of lees veral indien jy nie weet wat die woord “braak” binne hierdie konteks beteken nie, ‘n braakland is ‘n nuwe land wat omgeploeg is en net so gelos is:
braak werkwoord. (gebraak)

Nuwe grond omploeg om dit dan so te laat lê sonder om dit te besaai. selfstandige naamwoord: Grond wat gebraak is. 


Die opdrag van God is, braak vir julle ‘n braakland, met ander woorde, ploeg jou hart opnuut oop, maak jou hart gereed om saad te ontvang, maak jou gereed om die Woord van God te ontvang.


Die Here sê aan Heidelberg: Braak vir julle ‘n braakland, maak die grond van jou hart reg om die lewende Woord van God te ontvang, die Here gee hier detail van die oproep tot bekering, die oproep tot ‘n hartsverandering, Hy sê wanneer jy jou hart verander om onverdeeld op Hom gerig te wees dan moet jy ook die nuwe grond omploeg, jy moet ontslae raak van die verfoeisel in jou hart, die dinge wat jou soms laat wonder of God regtig in beheer is, raak ontslae van die dorings en distels en alles wat kan keer dat die grond vrugbaar sal wees. God sê maak jou gereed om die Woord van God te ontvang, net nadat Hy die opdrag gee om ‘n braakland te braak voeg hy by, moenie saai tussen die dorings nie !! Hoor die Woord van God vanaand, en saai nie onder die dorings nie, moenie onder die dorings saai nie, geliefdes. Uit die gelykenis van die saaier weet ons dat die saad die Woord van God is en dat die dorings die sorg van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom is wat veroorsaak dat die saad, die Woord, verstik word en word onvrugbaar.

Mat 13:7
 En ‘n ander deel het in die dorings geval, en die dorings het opgekom en dit verstik.
Mat 13:22 En by wie in die dorings gesaai is—dit is hy wat die woord hoor, maar die sorg van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom verstik die woord, en hy word onvrugbaar.
Hoe braak jy vir jou ‘n braakland, jy spandeer tyd op jou knieë, tyd in gesprek met God, jy spandeer tyd met gebed, jy laat toe dat God met jou spreek deur Sy Gees, en wanneer jou hart gereed is laat die saad geplant word in jou hart, maar moenie onder die dorings saai nie ! Moenie die Woord van God ondergeskik stel aan die sorge van hierdie wêreld nie, moenie laat bekommernis die Woord van God in jou lewe verstik nie, moenie dat die jaag na geld waarmee die wêreld en so baie mense behep is mee vandag, moenie dat hierdie dinge die Woord in jou lewe verstik en jy onvrugbaar word nie. Onthou dat dit nie geld is wat boos is nie, maar wel die liefde vir geld, geldgierigheid.

1Ti 6:10 Want die geldgierigheid is ‘n wortel van alle euwels; en omdat sommige dit begeer, het hulle afgedwaal van die geloof en hulleself met baie smarte deurboor.
Maak die grond van jou hart gereed om die Woord van God te ontvang !! Maak seker dat jou hart tot gerig is, braak vir jou ‘n braakland deur gebed. Dit gaan nie altyd maklik om ‘n nuwe stuk grond om te ploeg nie, daar mag miskien klippe onder die grond wees wat nie sigbaar is as jy bo-oor loop nie, maar wanneer die ploeg daaroor gaan, of teen hom stamp, dan weet jy dit is daar, net so wil die Here hê dat jy jou hart moet voorberei om Sy Woord te ontvang en te saai, die bekommernisse en sorge van hierdie lewe is baie keer die klippe wat onder die oppervlak lê, wat niemand anders van weet nie, maar God weet daarvan want Hy is die kenner van harte en wil ook nie hê dat die saad moet val op ‘n plek waar dit net maar ‘n entjie gaan groei en dan gaan doodgaan van die hitte van die son nie, maar dat dit sal val en wortelskiet en groei en vrug dra, maak jou hart gereed om die Woord van God te ontvang !!!

Hy gaan verder en sê, besny julle vir die Here, en onmiddelik het die volk van God, Israel, gesê maar ons is dan besny toe ons agt jaar oud was !! Hoe kan ons ons nou weer besny ? Amper soos Nikodemus toe Jesus vir Hom sê dat Hy weer gebore moet word, toe vra hy maar hoe kan ek weer gebore word, en Jesus sê vir Hom as jy nie weer gebore word uit water en gees nie, kan jy die koninkryk van God nie ingaan nie. Jy sê dalk vanaand ek is klaar tot bekering gekom, jare terug al, die Here het my al jare terug uit die slawehuis van sonde uitgelei en verlos. Die Here gaan verder en kwalifiseer die besnydenis wat Hy verwag : “verwyder die onbesnedenheid van julle hart” verwyder die dinge wat God se Woord verstik in jou lewe, hoor vanaand weer die oproep tot bekering en die oproep om ‘n braakland te braak en nie te saai onder die dorings nie !!!

3.
 Die oproep tot bekering word afgesluit met ‘n waarskuwing:

Hierdie gedeelte word afgesluit met ‘n kort maar ernstige waarskuwing bekeer julle dat my grimmigheid nie soos ‘n vuur uitgaan en brand sonder dat iemand kan blus nie, weens die boosheid van julle handelinge !! Wanneer jou hart nie tot God bekeer is nie, wanneer jou hart nie onverdeeld op Hom gerig is nie, gaan daar dinge hulleself in jou hart kom tuismaak, dinge soos slegte gesindhede, dinge soos bekommernis ensovoorts en ongelukkig wanneer die dinge in jou hart kom lêplek maak, gaan dit jou handel en wandel in jou daaglikse lewe beïnvloed, want wat in jou hart is gaan deur jou mond uitkom en dit is wat jou onrein maak, die slegte gedagtes.

Mat 15:19 Want uit die hart kom daar slegte gedagtes, moord, egbreuk, hoerery, diewery, valse getuienis, lastertaal.
Mat 15:20 Dit is hierdie dinge wat die mens onrein maak

Mat 12:34 Addergeslag, hoe kan julle goeie dinge praat terwyl julle sleg is? Want uit die oorvloed van die hart praat die mond.

Hoor vanaand die Woord van God: Braak vir jou ‘n braakland en saai nie onder die dorings nie ! Verwyder die onbesnedenheid van jou hart, neem weg uit jou hart dit wat die Woord van God onvrugbaar maak in jou lewe.

Samevatting en slot:

Ons weet dat die volk van God, Israel nie gehoor gegee het aan hierdie boodskap nie, en dat hulle uiteindelik in ballingskap weggevoer is, na Babel toe. Kind van God wat gaan u vanaand met die Woord van die Here maak, gaan u soos Israel van ouds, jou maar net nie steur aan die Woord van God nie, of gaan u gehoor gee aan God’s Woord en vir u nuwe grond omploeg en nie saai onder die dorings nie ? Die keuse is vanaand joune ! Wat gaan jy maak ? Gaan jy vir jou ‘n braakland braak deur gebed ? Gaan jy jou hart gereed maak om die onverganklike saad, die Woord van God te ontvang en seker maak dat jy nie die Woord van God ondergeskik stel aan jou sorge en bekommernisse van die lewe nie.

Gal 6:7 Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai.
Gal 6:8 Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai.
Gal 6:9 En laat ons nie moeg word om goed te doen nie, want op die regte tyd sal ons maai as ons nie verslap nie.


Braak vir julle ‘n braakland en saai nie onder die dorings nie ! Kom vanaand en maak die besluit om in 2011 ‘n braakland te braak en nie saai onder die dorings nie, knap jou gebedslewe weer op !!! Sodat jou hart gereed is om die Woord van God te ontvang.

Aanvullende informasie

  • Teks (Bv. Johannes 3:16) Jeremia 4:4
  • Bybelboek Jeremia
  • Bronverwysings

    Bron: 1933/53 Bybelvertaling.

  • Tydsduur (bv. 15 min) 60 minute
Gepubliseer in Preek
Google+