Wys items op etiket: angs

Sondag, 05 April 2015 00:28

God is by jou selfs in moeilike tye

Soms verstaan ons nie die pad wat die Here met ons loop nie. Dis soms ook so moeilik om te verstaan hoekom sekere dinge met ‘n mens gebeur.In sulke tye voel ons dat God so ver van ons is en dan kan ons so maklik na mense gaan om ons te help met ons probleme. Josef het niemand gehad nie, behalwe God toe hy in allerlei moeilike omstandighede val. Hy was die jongste seun en sy broers het nie baie van hom gehou nie omdat hulle gevoel het hulle pa trek hom voor. Op ‘n dag het hulle hom aan Midianitiese handelaars verkoop en dié het hom weer in Egipte aan Potifar, ‘n amptenaar van die farao, verkoop. Potifar het hom later in beheer van sy huishouding gestel.Maar sy vrou het egter ander planne gehad en Josef probeer verlei.Toe hy weier, het sy hom vals beskuldig en hy is in die tronk gegooi. Maar, vertel die Bybel vir ons, ook in die tronk was die Here by Josef.  Ons lees in die verhaal van vier dinge wat gebeur as God by ons is veral in tye van nood.

 

1.       Jy sal God se seёn ervaar
2.       Jy sal versoek word
3.       Jy sal die regte dinge doen
4.       Jy sal God se liefde ervaar

 Jy sal God se seen ervaar
Wanneer dit goed gaan met ‘n mens kom mense dit gewoonlik agter. Miskien veklap jou kleredrag dit, jou glimlag, jou opgewektheid, jou ywerigheid by die werk of skool. Soms wens mense hulle het ook daardie ywerigheid, daardie “iets” anders. Hulle sal soms opmerkings maak daaroor of jou komplimenteer bv jy lyk so anders vandag of het jy jou hare laat doen? Gewoonlik sê ek net “dankie, al die eer kom die Here toe!” Dit is eintlik die Here se teenwoordigheid in jou lewe wat die verskil maak.Kan mense Christus in jou doen en late sien? Mense sal en moet nie anders kan as om dit raak te sien nie. Dit is wat met Josef gebeur het.Potifar het gesien dat die Here by Josef was en was Josef goedgesind. Hy het Josef oor al sy besittings aangestel en hom tot sy persoonlike slaaf bevorder. As gevolg van  Josef  het God die huis van Potifar geseёn. As gevolg van jou kan die Here jou huisgesin, jou werkgewer, jou skool, jou vriende en ja jouself seen. Selfs in die posisie as slaaf, ver van sy vader se huis, in ‘n vreemde land, in so ‘n ongewenste situasie, was God by Josef.God is nie ver nie, Hy is by jou selfs in moeilike omstandighede.

Jy sal versoek word
Niemand is gevrywaar van versoekings nie, selfs nie eers ‘n christen nie. Hoe ons hierop reageer, dit is wat saakmaak.Ons moet versoeking erken en weet waarvandaan dit kom, dat dit sonde sal voortbring as ons daaraan toegee.Soms wanneer die versoeking kom, dan gee ons toe en wanneer ons dan in die moeilikheid is dan gee ons die skuld vir God. Nee! Jak. 1:13-14 sê “Iemand wat in versoeking kom moet nooit sê: Ek word deur God versoek nie; want God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie.Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep.”Dus as ‘n mens verlei word is dit dikwels ons eie skuld. As daar nou sonde in jou lewe is, moet ons onmiddellik stop daarmee, voordat dit te ver gaan sodat daar vir jou geen omdraai kans is nie. Toe Potifar se vrou Josef probeer verlei, het hy blatant geweier! Hy het die versoeking erken vir die sonde wat dit teenoor God sal voortbring  as hy sou toegee. Hy het selfs gedink aan die vertroue wat Potifar in hom gestel het deur dat hy hom oor alles aangestel het en hy wou nie misbruik maak daarvan nie en die grense wat Potifar gestel het ook nie oortree nie. Dit spreek boekdele van sy geloofsoortuiging, lojaliteit en toewyding.  Maar die vrou het aangehou soveel so dat hy later moes vlug.

Jy sal die regte dinge doen
Baiekeer as ons in versoeking kom, gee ons so maklik in as gevolg van groepsdruk, vriende, populariteit, om in te wees, omdat dit my baas is. Ons doen dinge om die verkeerde redes. Agterna is ons soms spyt, maar een gevolg van spyt is: dit kom altyd te laat. Dit was immers Potifar se vrou hoe kon hy vir haar “nee” sê, hy sal mos sy werk verloor, wat nog van sy status, sou hy kon dink.  Sy sou hom dalk in onguns bring by Potifar of hom vrylaat? Toe sy nie haar sin kry nie, het sy hom valslik beskuldig. En omdat hy gekies het om die regte ding doen, was die tronk sy beloning. Maar selfs daar was God by hom. Josef het aan God gedink en wat se sonde dit sou voortbring as hy sou toegee. Elke keer wanneer ons voor so ‘n situasie kom moet ons onsself afvra: “What would Jesus do?” Turn your eyes upon Jesus. Ons moet ons rug draai op die sonde. Om die regte ding te doen, beteken soms dat ons in onguns by mense kom. Maar liewer in onguns by mense as in onguns by God.

Jy sal Sy liefde ervaar
Partykeer weet ons baie gou waar die huis is as ons in die moeilikheid op straat kom met vriende of selfs na ‘n moeilike dag by die werk. Dan weet ons die enigste veilige plek is die huis, by ma en pa waarheen ons kan vlug. Daar sal ons veilig wees, daar sal ons aanvaar word en daar kan ons net wees. As christen waarheen gaan u as u in die moelikheid is? Ps. 46:2 sê “God is vir ons ‘n toevlug en ‘n beskerming; Hy was nog altyd bereid om te help in nood.” Dis juis wanneer ons in nood verkeer dat God baie naby ons is.Selfs in die tronk het God vir Josef Sy troue liefde laat ondervind. Ps 23:4sê: “Selfs al gaan ek deur donker dieptes sal ek nie bang wees nie, want U is by my, in U hande is ek veilig.” Josef het geweet God was by Hom, daarom  kon hy vlug, want God was nog altyd daar. Hy ken sy God, hy het presies geweet waartoe sy God instaat is. Hy het hom uit die put van die dood gered, Josef het Sy guns ervaar in Potifar se huis, God sal hom hieruit ook red. Waar is u nou op u lewenspad? In watter situasie bevind jy jou? Voor watter keuse staan jy? Weet jy wat jy moet doen? Weet jy watter kant toe? Neem dit na God! In Joh.14:6 sê Jesus: “ Ek is die weg, die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur my nie” Jesus is die weg na God toe. Kom na God, doen die regte ding en jy sal Sy vegifnis, Sy seen en troue liefde ondervind!
Amen

Aanvullende informasie

  • Teks (Bv. Johannes 3:16) Genesis 39:1 23 (1)
  • Bybelboek Genesis
  • Tydsduur (bv. 15 min) 10 minute
Gepubliseer in Kitsboodskap
Google+